‘n Lekker kuierplekkie in Jacobsbaai met ‘n privaat ingang en die Atlantiese Oseaan aan die anderkant van die promenade. ‘n Balkon bied ‘n 180-grade uitsig oor die see, en as die son sak kan mens toesien hoe “die rooi en die blou in die aandskemer trou” terwyl mens saam met die dag donker word.
Vir besprekings, kontak Paul Mare op WhatsApp +49 151 4406-3404.
Hierdie woonstel is vir nie-rokers en bied gratis parkering.
Daar is slaapplek vir 4 mense op ‘n groot dubbelbed en 2 enkelbeddens. Dis ideaal vir ‘n paartjie of ouers met 1 of 2 kinders. Die beddens is oorgetrek met die fynste Egiptiese katoen en die kussings is hypo-allergenies.
In die winter kan mens lekker voor die potysterstofie kuier terwyl mens luister na die strelende klank van die branders.
Geriewe
‘n Gerestoureerde klassieke Edwardiaanse agtkantige tafel met kontemporêre sitplekke vorm ‘n middelpunt, wat weerspieël word in die agtkantige vrugtebak en lamp.
Die mini-kombuisie het ‘n mikrogolf, panini-maker, eetware vir 4 mense, ‘n yskassie met komplimentêre water, melk en wyn. Ons voorsien ook kitskoffie, moerkoffie en ‘n verskeidenheid van tees, met witsuiker, bruinsuiker en versoeter; verder ook lekker beskuit en sjokolade.
Daar is ook ‘n aparte opwasbak.
Ons verskaf strandhanddoeke, badhanddoeke en luukse verhitte handdoekrelings.
‘n Aparte wasbak, toilet en stort rond die eenheid af.
As jy in kontak met die buitewêreld sou wou bly is daar ‘n werkstasie vir ‘n skootrekenaar met ‘n klassieke riempies-stoel, ondersteun deur ‘n supervinnige internet (200Mbps glasvesel). Die televisie het DSTV Streaming en is gereed vir Netflix met jou eie rekening.
Die balkon buite het 2 gemaklike Adirondack stoele en ‘n besondere uitsig. Daar is ook ekstra sitplek op ‘n bankie en ‘n Weber vir buite-braai.
Pak jou tasse en kom kuier op die Weskus!